Twee verdagtes in hulle dertigs is vroeg Maandagoggend 15 April 2019 op Kuruman in hegtenis geneem.
Kapt. Olebogeng Tawana sê: “Die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad en die trio-eenheid in die Noord-Kaap het die arrestasie met behulp van die honde-eenheid op Kuruman uitgevoer. Die in hegtenisname volg na ’n deeglike ondersoek. Aktiwiteite van dwelmhandel is op die perseel waargeneem.”
Die polisie het 750 Mandrax-tablette en 300 sakkies metamfetamien (tik of meth) in die woning van die verdagtes gevind. “Die verdagtes gaan binnekort op aanklag van dwelmhandel in die Kuruman-streekshof verskyn,” sê kapt. Tawana.
Die provinsiale polisiekommissaris van die Noord-Kaap, luit.-gen. Peter Shivuri bedank die eenhede vir hulle samewerking wat verseker dwelms word uit gemeenskappe verwyder.







