Onbehandelde rioolwater beland in Kamfersdam

Deel hierdie storie / Share this story

Meer as die helfte van die infrastruktuur by die Homevale-watersuiweringsaanleg word nie van gebruik gemaak nie. Dit terwyl kiloliters storm- en rioolwater by die aanleg invloei.

FiND iT het die inspeksie van die aanleg bygewoon. Werkers in oorpakke het met besems en maskers by ’n suiweringspan ingeklim en die bodem gevee.

Andrew Louw, DA-premierskandidaat, het ’n oorsiginspeksie by die aanleg uitgevoer. Louw sê: “Daar is soveel miljoene hier spandeer; maar ek was op elke gedeelte van die aanleg teleurgestel. Die DA gaan kriminele klagtes teen Sol Plaatje-munisipaliteit indien. Die veiligheid van die werkers by die aanleg is in gedrang wat onder onveilige en onhigiëniese toestande werk. Die feit dat die water pink is sê vir my hier is ’n groot probleem by die aanleg.”

Geen rede hoekom aanleg nie werkend is nie

Hans Oliphant, ’n oud-werker by die aanleg wat meer as 25 jaar daar gewerk het, sê met die hoeveelheid geld wat op die aanleg spandeer is, moet dit operasioneel wees.  Voorts sê hy: “Ek kan nie verstaan hoekom is die water in een van die suiweringspanne pienk van kleur nie. Ek het in al my jare van dienslewering nog nooit pienk water in hierdie gedeelte van die aanleg gesien nie. Net die aanlegbestuurder sal kan antwoorde lewer hoekom staan die water en het die kleur.”

Helfte van invloei kom vanaf Kimdustria

“Helfte van die invloei by die aanleg kom vanaf die abattoir en van die industriële gebied in Kimdustria. Die ander helfte, wat ligter van kleur is, kom vanaf die res van die stad. Die industriële invloei is donker omdat die inhoud bloed bevat wat by die abattoir in die rioolstelsel afgespoel word,” vertel Oliphant.

Water aan mynbedryf word nie gemeet nie

Voorts sê hy: “Geen watermeter is tydens my dienslewering op die watertoevoer na die nabygeleë mynbedrywighede geïnstalleer nie. Daar was aan ons gesê ons mag nie daaroor praat nie. Die myn betaal nie vir die gryswater nie.”

Water nie behoorlik behandel nie

“Die water word nie behoorlik behandel vir nadelige bakterie nie. Die ketels by die aanleg werk nie. Die nodige infrastruktuur om die water die suiwer word ook nie gebruik nie. Dus word onbehandelde water in Kamfersdam gepomp,” sluit Oliphant af.”