GAUTENG. – ‘n Man (57) is Sondagoggend onderweg na Lanseria-lughawe in hegtenis geneem toe hy na bewering met ‘n begeleide konvooi met ‘n buitelandse hoogwaardigheidsbekleër “ingemeng” het.
Brig. Athlenda Mathe sê die beweerde verdagte is vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem.
Na bewering was die konvooi na Lanseria-lughawe op pad. Die man het glo waarskuwings om van die konvooi weg te bly verontagsaam. Hy het glo probeer om met sy voertuig in die konvooi in te beweeg en is met die derde probeerslag afgetrek en in hegtenis geneem.
Hy sal vandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.
Mathe sê volgens die Nasionale Padverkeerswet het voertuie met ‘n blou lig absolute reg van toegang wanneer dit veilig is en motoriste word gemaan om dit te respekteer.
Brig Mathe herinner die publiek blou ligte mag slegs op voertuie van die SAPD, munisipale polisiedienste, verkeersdepartement en militêre polisie aangebring word.
Lede van die publiek wat onregmatig blou ligte gebruik, is skuldig aan ‘n misdaad.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



