OVERSTRAND, WES-KAAP. – Inwoners van Pringlebaai moes Dinsdagmiddag ontruim nadat ’n Insident-bestuurspan voorspel het dat ’n brand vanaf Hangklip na die area sou versprei.
Om 12:30 het die Overstrand-munisipaliteit inwoners van Brodie Link in Pringlebaai aangeraai om te ontruim nadat ’n kode rooi verklaar is. Omstreeks 13:15 is ’n volle ontruiming aangekondig.
Die munisipaliteit het Kleinmond se stadsaal as die noodontruimingsentrum aangewys. Inwoners en troeteldiere kon daar ’n veilige hawe vind.
’n Beroep is op sogenaamde “ramptoeriste” gedoen om uit die strate en pad van noodpersoneel te beweeg. Hulle het na bewering foto’s geneem en die areas waar die brande uitgebreek het, verken.
Inwoners is vroeg Dinsdagoggend reeds gewaarsku om eerder die Brodie Link en Blesberg-staproetes te vermy omdat die brande enige tyd weer kon vlamvat. Die waarskuwing het gevolg nadat verskeie brande regoor die Overstrand-area Maandag uitgebreek en onder beheer gebring is.
Na bewering is die brand Dinsdagmiddag deur sterk wind en die droë plantegroei teen die berghange versprei.
Me. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, was saam met die brandweer en noodpersoneel op die toneel te midde van die aksie. Sy het in ’n video wat op die munisipaliteit se Facebook-blad gedeel is vir donasies van onder andere water, energiestafies en koeldrank vir die brandbestryders en noodpersoneel gevra.
Grant Cohen, woordvoerder van die Overstrand-munisipaliteit, het brandbestryders vir hulle goeie werk geprys. Hy het ook inwoners bedank wat aan brandbestryders, wat uit ander areas kom help het, akkommodasie aangebied het.
Volgens berigte kon die brand betyds gekeer word voordat dit na huise versprei het. Overstrand-munisipaliteit het egter bevestig dat die brand teen Dinsdagaand in die omliggende areas nog nie heeltemal onder beheer was nie. Die oorsaak van die aanvanklike brande is nog nie bekend nie.
Inwoners en verbygangers het die volgende video’s op sosiale media gedeel:
Bronne: Overstrand Munisipaliteit, Cape Nature, Overstrand Herald, Twitter



