FRANKRYK. – Aktiviste van die Riposte Alimentaire-groep het die bekende Mona Lisa-skildery in die Louvre, Parys met sop gegooi.
’n Video wat aanlyn versprei word, wys twee vroue met wit T-hemde wat verby die afgesperde area om die Mona Lisa-skildery stap en rooi sop teen die glas wat die skildery bedek, gooi.
Die insident spruit glo uit die groep se agenda om bewusmaking te bevorder oor inwoners wat nie vrye en bekostigbare toegang tot voedsel het nie. Hulle het voor die skildery gestaan en die toeskouers gevra: “Wat is meer belangrik? Kuns of die reg tot gesonde en volhoubare voedsel?”
Daarna is die twee vroue deur sekuriteitswagte verwyder en die vertrek is ontruim. Die Salle des Etats-lokaal waar die skildery vertoon word, is skoongemaak en weer vir besoekers oopgestel.
Die twee vroue, onderskeidelik 24 en 63 jaar oud, is in hegtenis geneem.
Hulle optrede hou verband met Franse boere wat onlangs in die nuus was omdat hulle vir beter pryse vir hulle produkte baklei het. Die boere eis ook beskerming teen goedkoop invoere wat hulle ’n verlies laat ly.
Volgens die Louvre is die skildery nie beskadig nie. Daar is in die vroeë 1950’s veiligheidsglas om die skildery aangebring nadat ’n besoeker suur op die skildery uitgegooi het.
Een van die video’s wat op sosiale media versprei word:
Bronne: BBC, Sky News, Twitter



