UPINGTON, NOORD-KAAP. – Simptome van hitte-uitputting, babas wat nie wakker word vir voeding nie en kritieke operasies wat gestaak moes word. Dit is maar net ’n paar van die beweerde gevolge van die ondraaglike hitte in die Dr. Harry Surtie-hospitaal wat die koerant Die Gemsbok met die publiek gedeel het.
Hulle het glo talle klagtes van pasiënte en inwoners oor die ondraaglike hittetoestande en gevolglike nadelige impak daarvan ontvang. Met ’n besoek aan die hospitaal het hulle met personeel en pasiënte oor hulle ervarings gesels.
Die besoek het as opvolg van ’n vorige besoek in November 2023 gedien. Daar was na bewering geen lugversorging in die hospitaal nie, wat glo die lewering van effektiewe gesondheidsdienste belemmer.
Sommige pasiënte het na bewering die afgelope paar maande simptome van hitte-uitputting begin toon en moes met yspakke afgekoel word nadat hulle stuipe gekry het. Onlangse sterftes, die stoortemperature van medikasie wat nie stabiel is nie en babas in die neonatale afdeling wat nie gewig optel nie, is van die bewerings wat deur Die Gemsbok ondersoek is.
Hulle berig dat sekere operasies as gevolg van die hitte gestaak moes word. Tydens hulle besoek aan die hospitaal het hulle gevind dit is warm en bedompig in die sale en veral in die intensiewe sorgeenheid.
Bewerings is gemaak dat die lugversorging in die bestuurspersoneel se kantore gewerk het. Die hospitaal het glo in November 2023 die lugversorgingstelsel laat herstel, maar dit het egter net vir twee weke gehou. Gevolglik is 90% van die hospitaal na bewering sedertdien sonder lugverkoeling.
Werknemers het glo aan Die Gemsbok erken dat hulle onder moeilike omstandighede werk en dat die hitte ondraaglik raak.
Volgens die publikasie het die uitvoerende bestuurder sekuriteitpersoneel beveel om hulle van die perseel te verwyder.
Die Dr. Harry Surtie-hospitaal is in 2014 deur die president self amptelik geopen. “Die lewens van ons mense is in julle hande,” was van die woorde waarop daar tydens die amptelike opening van die hospitaal byna tien jaar gelede klem gelê is.
FiND iT het ’n navraag aan die Dr. Harry Surtie-hospitaal aangaande die bewerings gerig.
Bronne: Die Gemsbok, Northern Cape Government, Facebook



