Pa vlug na beweerde seksuele aanranding van sussies

Deel hierdie storie / Share this story

HAZELMERE, KZN. – Die beweerde seksuele aanranding van twee sussies deur hul pa het Saterdagmiddag in Hazelmere aan die lig gekom nadat hulle ’n familielid in hulle vertroue geneem het.

Die twee sussies, onderskeidelik vyf en ses jaar oud, se oom het die voorval Saterdagmiddag omstreeks 13:44 aan Reaction Unit South Africa (Rusa) gerapporteer. Reaksielede en ’n vroulike paramedikus is dadelik na die toneel gestuur.

Met Rusa se aankoms op die toneel het die oom hulle na die verdagte se huis geneem waar die twee sussies aangetref is. Na bewering het die verdagte gevlug voordat reaksielede opgedaag het.

Volgens berigte het die pa na bewering beide sussies op verskeie geleenthede seksueel aangerand. Hy het hulle glo in Desember 2023, terwyl hulle saam met hom in sy motor gery het, ook onbetaamlik betas.

Die sussies het die gebeure vroeër aan ’n familielid vertel wat hulle ma daarna ingelig het. Volgens die familielid het die ma na bewering gepleit dat die voorval nie by die polisie of Rusa aangemeld word nie, omdat sy bang was haar man word in hegtenis geneem.  

Na bewering was die ma by haar werksplek toe die familie Rusa Saterdagmiddag gekontak het. Die SAPD is ook na die toneel ontbied om die saak verder te ondersoek.

Bronne: Reaction Unit South Africa, Facebook