Hond na drie dae uit stormwaterdrein gered

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA, GAUTENG. – Plaaslike gemeenskapslede van Pretoria het ongeveer drie uur gesukkel om ’n hond uit ’n stromwaterdrein op die hoek van Kerkstraat en WF Nkomostraat te red. Die hond was na bewering drie dae lank in die stormwaterdrein vasgekeer.

Inwoners het bekommerd geraak nadat hulle fyn tjankgeluide gehoor het. Hulle kon egter nie vasstel waarvandaan presies dit gekom het nie en het boodskappe op die plaaslike Whatsapp-groep geplaas.

’n Bestuurder vir die First Help-insleepdiens het die drein waar die hond vasgekeer was, Woensdag omstreeks 11:48 opgespoor en die plaaslike CPF vir hulp gekontak.

Volgens berigte was die redders in lewensgevaarlike omstandighede, aangesien die drein enige oomblik kon meegee.

Die hond se eienaar het op die Whatsapp-groep van die situasie te hore gekom en hom na die toneel gehaas. Hond en eienaar kon uiteindelik om 14:25 herenig word.

Bronne: The Citizen, Pretoria Rekord