‘Selfoonrowers’ geskiet en in hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Twee vermeende verdagtes wat glo gistermiddag omstreeks 16:55 ‘n selfoon van ‘n vrou in Wierda Village in Centurion geroof het, is na bewering deur haar man geskiet en is in die hospitaal.

AO Johan van Dyk sê die vrou het vir ‘n kosbestelling gewag toe sy glo van haar selfoon beroof is. Haar man het na bewering ses skote na die verdagtes, wat in ‘n Toyota Etios probeer vlug het, geskiet. Een is in die been en ‘n ander in die rug geskiet en is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Van Dyk sê voordat die polisie op die toneel aangekom het, het twee mans wat daar rondgestaan het die voertuig wat in die rooftog betrokke was oopgemaak en ‘n selfoon daaruit gesteel. Hulle is óók in hegtenis geneem.

Die oorspronklike selfoon wat tydens die roof van die vrou gesteel was, is teruggevind en sake van roof en poging tot moord word ondersoek.

Met die selfoon wat uit die voertuig gesteel is, is sake vir die besit van gesteelde eiendom, peuter met ‘n misdaadtoneel en regsverydeling geregistreer.

Altesaam vyf verdagtes is op dieselfde toneel in hegtenis geneem, waarvan Wierdabrug-polisie die sake ondersoek.

Van Dyk sê vier selfone is tydens die insident teruggevind.

CERT-SA sê hulle Centurion-bemanning is omstreeks 17:15 na ‘n skiet-insident by ‘n plaaslike inkopiesentrum in Willem Bothastraat in Eldoraigne.

Twee vermeende rowers wat tydens ‘n beweerde rooftog geskiet en beserings opgedoen het, is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Beide is stabiel en onder polisiebewaking.

Bronne: SAPD en CERT-SA

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel