KWAZULU-NATAL. ‘n Vrou het gistermiddag gesterf en ‘n man is beseer toe die voertuie wat hulle bestuur het op die M4 Ruth First-hoofweg net voor die Broadway-afrit reg van voor teen mekaar gebots het.
Kyle van Reenen van Emer-G-Med sê ‘n sportsnutvoertuig het op die toneel op sy dak in die regterbaan gelê en die wrak van ‘n Renault Clio op die linkerskouer van die pad.
“Daar was onmiddellik besluit om nog hulp in te roep.”
Van Reenen sê ‘n vrou was in die Renault vasgekeer. Metropolisiebeamptes het die pad gesluit sodat nooddienste op die toneel kon werk. Die vrou is deur verskeie gevorderde lewensondersteunende intervensiemetodes met behulp van Netcare911 behandel. Nadat sy deur Ethekwini se brandweer-en-reddingsdienste met reddingskake en ander hidrouliese toerusting uit die wrak bevry is, is sy op ‘n handventilator geplaas en na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. Sy het egter in die hospitaal gesterf.
Die man is gestabiliseer en met behulp van ALS-paramedici vir verdere mediese behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Volgens Garrith Jamieson van ALS Paramedics het paramedici chaos op die toneel aangetref.
“Twee voertuie het met mekaar gebots voordat een omgekeer en op sy dak tot ruste gekom het.”
Jamieson sê dis onbekend wat tot die ongeluk gelei het, maar word deur die polisie ondersoek.
Bronne: Emer-G-Med en ALS Paramedics
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



