‘Gesteelde’ perde in Kimberley binne ure teruggevind

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Die stalle van vyf perde by Voorslag-perdeklub is Saterdag omstreeks 06:50 leeg gevind. Drie uur nadat die perde glo gesteel is, is hulle teruggevind. Van die perde is egter in hierdie tyd so gery dat hulle beserings en trauma opgedoen het.

Ryno Griesel, die klub se voorsitter, sê nadat die diefstal bekend geword het, het lede van die klub ter ondersteuning bymekaargekom.

Die veiligheid van die diere was volgens Griesel ‘n groot bekommernis.

“Maar eerder as om aan wanhoop te swig, het die lede van Voorslag Perdeklub ‘n voorbeeld van veerkragtigheid en eenheid gewys te midde van teëspoed.”

Dank is teenoor die klublede, plaaslike owerhede en perdegemeenskap uitgespreek toe die geliefde perde binne drie uur nadat hulle glo gesteel is, teruggevind is.

“Die voorval was ‘n toetstyd vir ons, maar die reaksie van ons lede was niks minder nie as inspirerend. Dit is bemoedigend om te sien hoe almal saamstaan om die veiligheid en welstand van ons perde te verseker.”

Griesel sê die veediefstaleenheid van die polisie ondersoek die saak en die klub werk saam met hulle om die skuldiges aan die pen te laat ry.

“Die klub het ook bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel om toekomstige voorvalle te voorkom.”

Griesel sê die klub is vasbeslote om die uitdagende situasie te verander in ‘n geleentheid om hulle klub te versterk en die veiligheid van die perde te verseker.

Sherike van der Merwe, ‘n veearts van die Noord-Kaap, het in ‘n sosialemediaplasing gesê hulle het ‘n oproep vir bystand met vyf gesteelde perde ontvang.

Sy sê die perde was getraumatiseer toe hulle teruggevind is en sommige het al vier hoefysters verloor, wat beteken hul pote moes in die proses seergekry het. Hulle was moeg en hulle spiere was seer. Matige sedasie is aan sommige toegedien net om hulle te kon ondersoek.

In die plasing word genoem ‘n betroubare bron sê die perde is op vol spoed tussen 40 tot 50 km gery.

“Abandoned with makeshift tack still on. Some of the snaffles were made of wire, isolation tape, and rope, which left terrible abrasions and cuts on the sides of their mouths.”

Volgens die veearts ondergaan al die perde behandeling waarop hulle goed reageer.

Klem is in die plasing daarop gelê dat perde uitgeken moet kan word in geval van diefstal. Indien ‘n perd dan gesteel word, kan eienaarskap deur een van die volgende maniere bewys word:

“A valid identification is freeze brand, tattoo, microchip and passport of identification.”

“As a veterinarian, it was an emotional experience to see the condition of the horses when they were recovered, but it was inspiring to see a community come together and support each other the way they did, an experience I will never forget.”

Die klub moedig enigiemand met inligting oor die voorval aan om die plaaslike owerhede te kontak, of die klub se voorsitter, Ryno Griesel, by 0834448003.

Bronne: Farm Vet Dr. Sherike van der Merwe en Ryno Griesel Voorslag Perdeklub

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel