Een ton groensteen by grenspos gekonfiskeer

Deel hierdie storie / Share this story

NELSPRUIT, MPUMALANGA. – ’n Man (38) is Vrydag om 12:00 by die Josefdal-grenspos in hegtenis geneem omdat hy na bewering groensteen na Suid-Afrika wou smokkel.

Die man, afkomstig van die Eswatini-koninryk, was alleen in ’n Ford Ranger toe polisielede op die groensteen met ’n gewig van een ton en ’n straatwaarde van R35 000 beslag gelê het.

Volgens die SAPD was die gesteentes slegs met ’n seil bedek. Die verdagte sal Maandag in die Barberton-landdroshof vir die onwettige besit van edelmetale verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisie-kommissaris, het lede vir hulle goeie werk geprys.

Bronne: SAPD, Twitter