Oscar Pistorius ís op parool en by die huis

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Oscar Pistorius, wat gewildheid en roem verwerf het as die Paralimpiese lemnaeler, oftewel die “Blade Runner”, en ook berug geword het as moordenaar van sy vriendin, is uiteindelik ‘n vry man. Hy is in Pretoria op parool vrygelaat en met sy familie herenig.

Singabakho Nxumalo het aan FiND iT bevestig die lemnaeler is tuis en in die gemeenskaps- korrektiewe stelsel opgeneem.

Deel van sy paroolvoorwaardes bepaal Pistorius sal sekere ure van die dag tuis moet wees, hy mag nie alkohol of enige ander verbode middels gebruik nie en hy mag geen media-onderhoude toestaan nie.

Pistorius het die helfte van sy vonnis, wat hy vir die moord op Reeva Steenkamp uitgedien het, in die tronk deurgebring en is op 24 November 2023 parool vir 5 Januarie 2024 toegestaan.

Pistorius het sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentysdag 2013 volgens sy getuienis vir ‘n inbreker aangesien en haar deur ‘n toe toiletdeur geskiet. Steenkamp het tydens die skietvoorval gesterf.

Die saak het plaaslik sowel as internasionaal aandag geniet.

Pistorius het reeds ‘n geruime tyd gewag om te hoor of hy op parool vrygelaat sal word. Hy het hom ook tot die konstitusionele hof gewend waar beslis is hy was reeds in Maart 2023 geregtig vir parool.

Hy is uiteindelik vandag na ‘n lang wag en te midde van gemengde reaksies van diegene wat voel hy verdien dit nie en diegene wat bankvas agter hom staan, op parool vrygelaat.

Bron: Departement Korrektiewe Dienste

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vaíndag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel