Karlien van Jaarsveld wil vrou help wat dogter ‘boelie’

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Karlien van Jaarsveld het ‘n sosialemediaplasing gemaak waarin sy haar ontsteltenis uitspreek teenoor ‘n vrou wat ‘n meisietjie (ongeveer ses jaar oud) in ‘n restaurant in Morelettapark “geboelie” het. Sy sê sy wil die vrou help indien sy bereid is.

Indien jy die vrou is, kan jy met Van Jaarsveld op enige van haar sosialemediaplatforms kontak maak.

Van Jaarsveld het ‘n foto van haar en Joe Breytenbach, haar man, geplaas en die gebeure beskryf wat tot haar ontsteltenis aanleidingvgegee het. Die sangeres sê sy was so ontsteld dat sy nie kon slaap nie en in trane was.

Die jong meisie moes na beskuldigings luister en was ook volgens Van Jaarsveld oor ‘n tafel gepluk.

Die geliefde sangeres het in ‘n stadium genoeg gehad en het ingetree, waarna die mansfiguur vir haar gesê het hy het die situasie onder beheer. Die kind is daarna daarvan beskuldig “dat sy die sangeres ontstel het”.

Van Jaarsveld sê in haar sosialemediaplasing die kind is beslis nie die probleem nie, maar wel die vrou.

“Jy mevrou, kort hulp! Ek is bereid om jou te help as jy wil? As jy toevallig die lees, ek is op jou spoor, weet dit maar.”

Die sangeres se plasing is reeds meer as 4 000 keer gedeel en het so reaksie onder haar aanhangers ontlok dat die vrou van wie sy praat daadwerklik op sosiale media gesoek word.

Lees die volledige plasing hier onder:

*die foto is geneem net voor ons besef wat by die tafel agter ons gebeur.

Ek is vandag diep bedroef tot binne in my gebeente. Ek voel hoe die pyn so sit aan my lyf. Ek voel naar. Elke kort-kort dink ek aan haar en huil. Gistraand was ek kwaad, vandag is ek net seer vir haar. Ek skat haar 6 jaar oud. Sy sit aan die tafel in Moreletta in ‘n restaurant saam met haar ma en pa, ek sit net ‘n tafel weg van haar. Ek merk van die begin af haar ma wat vreemd optree. Elke kort-kort maak die ma ‘n lelike aanmerking teenoor die kind. Dan noem sy haar prinses in ‘n sneeuwitjie stiefma tipe stemtoon dan sê sy vir haar, wat gaan ons met jou doen? Die dogtertjie sê niks, sy kyk net bang na die ma. “Ons kry skaam vir jou, jy’t niks respek vir my nie, jy is net soos daai lelike prinses van Shrek.” Terwyl die dogtertjie net luister wat die ma sê, sy sê niks terug vir haar nie. Ek sien net groot bang ogies kyk na ‘n wrede grootmens wat met elke sin haar probeer breek. “Jy gooi te veel suiker in jou tee!”. Die dogtertjie is jammer en dan weer stil… Dan vat sy 2 pers speelgoedjies wat op die tafel lê om mee te speel, dan begin die ma weer “hoe lank moet ek nog goed vir jou pak?” Sy vra die pa “hoe gaan ons die kind hanteer? Dit kan nie so aangaan dat ek goed vir haar moet pak en doen nie”. “Gaan jy niks aan haar doen nie?” Vra sy die pa. Sy kyk na die dogtertjie met duiwelbesete oë en probeer die pa oortuig om ook opgewerk te raak teenoor die stil klein dogtertjie wat met die 2 goedjies in haar handjies speel en steeds grootoog nou en dan opkyk na haar wrede ma. Die ma het aangehou goed sê soos hoe teleurgesteld sy in haar is en sy weet regtig nie wat hulle met haar gaan doen nie. Toe die dogtertjie weer opkyk en sê sy is jammer gryp die ma met geweld haar aan haar arm en sleep haar oor die tafel. Sy kyk na haar met haat. Die dogtertjie begin vreeslik huil en is erg vreesagtig.Dis toe ek uit my stoel uit spring en na hulle tafel hardloop en die ma aan die skouer gryp en sê: “Dis nou genoeg jy doen nie dit met jou kind nie!”

Toe draai die pa na my en sê: “Moenie worry nie ek het als onder beheer”. Die ma was onmiddellik onskuldig en sê vir die dogtertjie “Kyk hoe het jy die tannie ontstel, nee my bokkie dis nie reg nie, kyk nou weer wat het jy aan ons gedoen, jy stel ons weer teleur, kom bokkie ons gaan ry”.

Sy het my nie ontstel nie, JY HET!!! Die klein dogtertjie kry die skuld vir alles wat sy nie doen nie! Ek kon nie slaap in die nag om te dink ek kon nie daai mooi weerlose kind gistraand uit jou afbrekende hardhandige kloue red nie. Ek huil vandag oor haar en hierdie waarin sy grootword, sy het nie ‘n keuse nie. Jy het! Jy mevrou, kort hulp! Ek is bereid om jou te help as jy wil? As jy toevallig die lees, ek is op jou spoor, weet dit maar.

Bron: Karlien van Jaarsveld II

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel