HAZELMERE, KZN. – Die SAPD en lede van Reaction Unit South Africa is Donderdagmiddag deur bekommerde gemeenskapslede na ’n informele nedersetting naby die Hazelmere-dam ontbied.
Met hul aankoms het hulle ’n dogtertjie (4) met oop wonde op haar gesig, lyf en bolip aangetref. Haar lyf het letsels van ou beserings getoon.
Volgens lede van die gemeenskap word die kind al na bewering maande lank deur haar ouers mishandel. Die dogtertjie het glo Woensdagaand by die huis gekom nadat sy saam met maatjies gespeel het.
’n Familielid het ’n video gemaak van hoe die ouers haar ondervra en na bewering met ’n strykyster aanrand. Hulle het haar daarna saam met haar vyf maande oue tweelingsibbe binnenshuis toegesluit.
Volgens die bure het die kind Donderdagoggend hulp ontbied nadat die ouers werk toe is.
SAPD-lede het die ma in arres geplaas, maar die pa kon nie opgespoor word nie. Albei ouers word deur aanklagte van kindermishandeling en -verwaarlosing in die gesig gestaar.
Bronne: Reaction Unit South Africa, Facebook



