Nog 32 beeste in Tosca-omgewing vergiftig

Deel hierdie storie / Share this story

TOSCA, NOORDWES. – ’n Totaal van 20 koeie, 10 kalwers en twee bulle is op Adolph Reyneke se plaas, Padden, naby Tosca vergiftig.

FiNDiT het op 30 November berig oor 44 beeste van Ockert Goosen wat in die Bray-area vergiftig is. Na daardie voorval het die gemeenskap die vinger na die beweerde veediefstalsindikaat van Rasta Kenosi gewys. Kenosi en twee vermeende medepligtiges het Maandag of afsonderlike klagte van poging tot moord in die Ganyesa-hof verskyn.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes, het gesê hulle is dankbaar vir arrestasies wat die afgelope week gedoen is en ook oor die terugvoer wat hulle kry. Hy het bygevoeg dat daar egter van die begin af groot kommer oor moontlike weerwraak was.

Volgens hom kan die insident op Reyneke se plaas ’n nabootsing wees of ’n doelbewuste poging om die aandag van sekere ander verdagtes af te trek.

Daar is weereens tekens van gif in die beeste se waterkrippe gevind. Agri NW het ná die voorval kontak met die nasionale taakspan gemaak. Hulle is verseker dat die nuwe misdaadtoneel behoorlik ondersoek sal word en dat alle moontlike leidrade opgevolg sal word.

“Vermy asseblief gerugte, eie afleidings en emosies wat die ondersoek verder kan bemoeilik,” het Pienaar bygevoeg.

Bronne: Agri Noordwes, Landbou.com