Drie tieners vas na video van beweerde verkragting

Deel hierdie storie / Share this story

MIDRAND, JOHANNESBURG. – Drie tieners is Woensdag in hegtenis geneem nadat hulle op Instagram ’n video oor die beweerde verkragting van ’n meisie (15) geplaas het.

Volgens berigte is die meisie vanaf ’n braai by ‘n klubhuis deur ’n gemeenskaplike vriend na ’n ander ligging gelok waar die drie tieners haar glo verkrag het.

Whatsapp-boodskappe wat tussen die drie verdagtes rondgestuur is, doen op sosiale media die rondte. Daaruit is dit duidelik dat hulle gedink het die meisie sal nie die gebeure onthou nie.

In die video praat hulle in vernederende besonderhede oor die slagoffer en noem dat sy te veel gedrink het. Dit het wye kommentaar van sosialemediagebruikers uitgelok.

Al drie verdagtes was eers voortvlugtig. Een verdagte is in hegtenis geneem voordat die ander twee hulself aan die polisie oorhandig het. ’n Protesaksie is Woensdag voor die Midrand-polisiestasie gehou waar lede van die gemeenskap hulle hoop uitgespreek het dat geen borgtog toegestaan sal word nie.

Volgens die slagoffer se suster, verskyn die drie verdagtes vandag in die hof.

Bronne: EWN, Swisher Post, Twitter