Pa en seun se as tydens huisroof gesteel

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA, GAUTENG. – Nadine van Dyk (50) vertel met rou emosie en trauma hoe sy Maandagoggend omstreeks 03:30 wakker geword het en ‘n man met ‘n wapen by die voetenent van haar bed gesien het. Sy sê wat haar die kwaadste maak, is dat die booswigte die as van haar oorlede man en enigste seun gesteel het.

Van Dyk sê aan FiND iT sy is met ‘n vuuwapen gedreig, vasgebind, haar mond toegemaak en sy is boonop geslaan.

Nadat die verdagtes haar gelos het, het hulle die huis op die onderste vloer geplunder. Sy kon daarin slaag om haarself los te kry, waarna sy deur die badkamervenster en oor mure geklim het om hulp te kry.

Die bure het die polisie gebel en ‘n buurvrou het die wonde wat sy opgedoen het, verbind. Nog ‘n buurvrou het die GPF verwittig.

Van Dyk sê hoe platsak sy nou in die feesseisoen is omdat sy diefwering en ‘n peperduur alarmsisteem by haar huurhuis moes laat aanbring voordat besighede vir Kersfees sluit. ‘n Buurman het ‘n ruit waardeur die indringers toegang verkry het vir haar vervang.

“Ek het drie en ‘n halwe jaar terug op my seun, Josua van Dyk (19) se liggaam in sy kamer afgekom toe ek hom vir werk wou gaan wakker maak.”

Haar man, Kobus van Dyk (60) is twee maande gelede op 16 Oktober aan natuurlike oorsake in die hospitaal oorlede nadat hy net die vorige maand verjaar het.

Sy vertel ontsteld die as is al tasbaars wat sy nog van haar enigste oorlede seun en man gehad het. Sy het “hulle” selfs elke oggend gegroet as sy verbygestap het om haar dag te begin.

Haar verhouding met haar seun en man was baie spesiaal. Sy sê haar seun was alles in haar lewe en hulle band was meer as dié van net ma en seun. Kobus was met hul seun se afsterwe haar steunpilaar wat gehelp het dat sy weer kon opstaan en voortgaan.

Dan vertel sy hartseer Kobus was haar heel beste vriend, hulle kon alles deel. Dit was asof hulle een liggaam gedeel het, so uniek en spesiaal was hulle verhouding.

Altwee die houers met die as is langwerpige kissies van hout gemaak. Josua se kissie is van donker hout met ligte skakerings. Sy naam, geboortedatum en sterfdatum is op die kissie aangebring. Kobus se kissie se plaatjie met sy naam op het sy skeef opgeplak en sy skerts oor hoe presies hy kon wees. Die plaatjie het sy naam en van, geboortedatum en sterfdatum op.

Enigiemand wat die kissies iewers opmerk, kan haar by 083 512 7018 bel.

“Hulle kon alles van my steel, hulle moes net die kissies gelos het.”

Kobus van Dyk se kissie met plaatjie is soortgelyk aan die kissie aan die linkerkant, maar van ‘n ligte kleur hout. Josua se kissie is soortgelyk aan die een aan die regterkant.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel