Liggaam van vermiste maatskaplike werker gevind

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – Jessica Nombulelo Michael (28), wat op 6 Desember as vermis aangemeld is, se liggaam is Maandag by die Kalkfontein-damwal gevind.

Brig. Motantsi Makhele sê die laaste keer wat sy opgemerk was, was Dinsdag omstreeks 15:00 toe sy by die kantoor was. Na bewering het die oorledene op die betrokke dag nie vir werk opgedaag nie.

Haar kollegas het dit vreemd gevind toe sy nie oproepe beantwoord nie. Met navraag is hulle ingelig sy het haar baba by haar ma afgelaai en het nie weer na werk opgedaag om die kleinding te haal nie. Daar is glo gesien sy het alleen in die rigting van die damwal gery.

Tydens ‘n polisie-soektog is haar voertuig by die damwal gevind, maar daar was geen teken van haar nie. Haar handsak en selfoon was steeds in haar voertuig.

Maandag is haar liggaam drywend in vlak water aan die anderkant van waar haar motor gelaat was, gevind.

Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer. In hierdie stadium word gemene spel nie vermoed nie, maar die ondersoek duur voort.

Bron: SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel