Vermeende voertuigkapers na twee mislukte voorvalle vas

Deel hierdie storie / Share this story

KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes is Sondagmiddag na twee afsonderlike beweerde kapingspogings in Tempe Valley vasgetrek.

Reaction Unit South Africa sê reaksiebeamptes is omstreeks 15:36 na ‘n toneel waar ‘n sjampanjekleurige Toyota Etios op die Lotuspad in ‘n muur vasgery het.

Die bestuurder van die voertuig, ‘n e-Hailing-kontrakteur, het twee manlike passasiers van Waterloo na Tempe Valley vervoer. Een van die mans het glo skielik ‘n mes te voorskyn gebring en die bestuurder beveel om stil te hou. Hy het geweier, waarna ‘n struweling ontstaan en die voertuig in die muur vasgery het. Die verdagtes het te voet gevlug.

Terwyl reaksiebeamptes op die toneel besig was, het ‘n rooi VW Polo by hulle stilgehou. Die bestuurder het hulle meegedeel hy was so pas amper deur twee verdagtes in Petuniarylaan gekaap.

Addisionele mannekrag is ingeroep om na die verdagtes te soek. Hulle is in dieselfde pad opgespoor, gekonfronteer en in hegtenis geneem.

Reaction Unit South Africa sê die eerste slagoffer het die verdagtes positief uitgeken.

Die twee verdagtes is na hulle inhegtenisneming by die Verulam-polisiestasie aangehou.

Bron: Reaction Unit South Africa

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel