NOORDWES. – Phillip Otto Djan (48) en Pascal Senayah (39) is Dinsdagoggend deur Hartbeesfontein-speurders op Morokweng vasgetrek. Die duo word aan drie verskillende sake van 24 November gekoppel. Dit sluit beweerde huisrooftogte en moord in.
Kol. Adéle Myburgh sê die vasberade speurders het die verdagtes honderde kilometers vanwaar die beweerde misdade gepleeg is, vasgetrek.
Inligting wat opgevolg is, het die gesoute speurders na die verdagtes se huis gelei. Die verdagtes is in besit van gesteelde items van Marilize Bosman en twee ander huisrowe van dieselfde datum gevind.
Marlize Bosman (39) se liggaam is met ‘n skietwond in haar slaapkamer aangetref. Die voorval is op die betrokke datum net na middernag aangemeld. Volgens Myburgh het verdagtes die huis betree terwyl Bosman en haar tienerdogter geslaap het. Bosman het die verdagtes ter beskerming van haar dogter probeer afweer, waarna sy geskiet is. Sy is op die toneel dood verklaar terwyl haar dogter ongedeerd was. Die verdagtes het ‘n selfoon gesteel.
Die tweede huisroof was slegs minute later omstreeks 01:10 aangemeld. Na bewering het ‘n bejaarde man (71) en sy vrou geslaap toe die verdagtes glo by hul woning ingebreek het. Die slagoffers is glo met ‘n vuurwapen gedreig en beveel om op die grond te lê. Skote is deur die verdagtes afgevuur wat vensters van die huis getref en beskadig het. Die verdagtes het met onder meer kontant en juwele gevlug.
Tydens die laaste huisroof wat 20 minute later gerapporteer is, het ‘n vrou (52) geslaap toe sy haar honde hoor blaf. Sy het buitentoe gegaan om ondersoek in te stel. Toe sy ‘n onbekende man in haar erf opmerk, het sy die huis ingevlug, ‘n veiligheidshek in die gang gesluit en haarself daarna in haar slaapkamer toegesluit. Die verdagtes kon glo daarin slaag om die deure oop te breek en het haar met ‘n vuurwapen gedreig. Op hierdie toneel kon die verdagtes met ‘n skootrekenaar en selfoon wegkom. Die slagoffer het nie beserings opgedoen nie, maar een van haar honde is doodgeskiet.
Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, het Donderdag op aanklagte van moord en drie huisrowe in die Hartbeesfontein-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot hul saak weer op 12 Desember voorkom.
“The North West Provincial Commissioner, Lieutenant General Sello Kwena, condemned the incidents and said the long arm of the law will not be selective nor will it be kind to those who perpetrate crime. He also commended the police for their tireless efforts that led to the arrest of the duo.”
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



