WES-KAAP. – ‘n Man van 34 het Woensdagaand in die see by Saundersstrand in Bantrybaai verdrink nadat hy ‘n jaareindfunksie by ‘n restaurant verlaat het .
Die NSRI sê die waterreddingsnetwerk is om 19:33 vir ‘n verdrinking geaktiveer. Bakoven- en Tafelbaai-reddingswemmers is saam met wetstoepassingsagentskappe en nooddienste na die strand waar die tragedie hom afgespeel het.
Met aankoms op die toneel is ‘n man wat klaarblyklik tydens ‘n verdrinking kritiek beseer is deur paramedici en ‘n omstander, ‘n dokter, behandel. Hy is dood verklaar ten spyte van alle pogings om sy lewe te red.
‘n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geopen en ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die oorledene se dood bepaal.
Volgens IOL se beriggewing was die oorledene volgens ‘n persoon op die toneel deel van ‘n groep kollegas wat ‘n jaareindfunksie by ‘n nabygeleë restaurant bygewoon het. Toe hy die geselskap verlaat, het kollegas hom vreemd sien optree. Hy was nie by sy motor nie. Volgens ‘n ooggetuie aan IOL is die man gesien waar hy die see ingaan.
Bronne: NSRI en IOL
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



