DA verhoog druk op Emthanenji namate De Aar se water opdroog

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie (DA) op De Aar het met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) en die plaaslike sakesektor vergader oor die verslegtende waterkrisis op De Aar. Rdl. Gerhard Engelbrecht het gesê: “Ons is ook besig om saam met die plaaslike gemeenskap te werk aan ‘n aksieplan om watertekorte aangespreek te kry.”

“Terwyl wateruitdagings op De Aar voortduur, het dit die afgelope twee maande vererger. Kritieke vlakke is in die laaste vier weke bereik. Die ergste geaffekteerde gebiede ervaar óf geen water óf slegs onderbroke watertoevoer gedurende die nag.”

“Benewens uiterste temperature en beurtkrag, spruit die probleme grootliks uit ‘n gebrek aan instandhouding en swak infrastruktuurverwante besluitneming deur Emthanjeni-munisipaliteit.”

Deurlopende feitesendings deur die DA het die volgende aan die lig gebring:

  • Die afgelope jaar was die reservoir nog nooit meer as 12% vol nie (sien foto hier).
  • Die hospitaal se reservoir is die afgelope vier jaar sonder water omdat die munisipale reservoir minstens 70% vol moet wees voordat water na die hospitaalreservoir gepomp kan word (sien foto hier).
  • In reaksie op ‘n groeiende aantal waterlekke op die hoofpypleidings, wat 30 kilometer uit die dorp strek, is die munisipaliteit se oplossing om die lekkasies in sand te begrawe weens hul onvermoë om dit behoorlik te herstel (sien foto hier). Dit sluit lekkasies in en om die dorp in.
  • Dertien uit ‘n totaal van 53 boorgate word nie gebruik nie omdat die stukkende pompe op die boorgate met minderwaardige pompe vervang is wat nie dieselfde volumes water kan pomp nie.
  • Wanfunksionele “boosterpompe” word nie herstel nie. Die DA wag steeds vir ‘n antwoord van die Hoof van Infrastruktuur, wat met siekverlof is, oor hoekom drie waterpompe wat reeds in April geïnstalleer is, nog nie in werking gestel is nie.
  • Die telemetriestelsel vir waterbestuurmonitering werk ook nie.

“Gesondheidsfasiliteite, skole, ouetehuise, gastehuise en besighede is onder erge druk. Diegene wat dit kan bekostig is besig om Jo-Jo-tenks op te rig en die afgelope maande is 22 uit die 25 boorgate wat in De Aar gesink is, deur besighede gesink om hul voortbestaan te verseker. Tog, terwyl De Aar te midde van ‘n ontwikkelende krisis is, bespreek Emthanjeni prestasiebonusse van hooggeplaaste amptenare wat nie meer by die munisipaliteit werk nie, in die afwesigheid van geld vir infrastruktuur.”

“Die DA het verlede week met ‘n verteenwoordiger van die SAMRK vergader oor ons voortgesette klagte met betrekking tot die watersituasie. Hulle het hulle daartoe verbind om dringend ‘n ingryping van die departement van water en sanitasie te versoek en om binne die volgende twee weke ‘n verslag uit te bring. DA Kiesafdelingshoof van Bo-Karoo, Fawzia Rhoda, het ook met COGHSTA LUR, Bentley Vas, gesels, wat aangedui het dat hy nie bewus is van die krisis nie, en verder ‘n versoek vir ‘n ingryping aan die premier, dr Zamani Saul, gestuur het om te help. Ons ondersteun ook ‘n gemeenskapspetisie, wat tot dusver 260 handtekeninge teen die watertekorte gekry het. Ons werk ook saam met plaaslike sakeondernemings om druk op die regering te verhoog om aandag te gee aan stukkende waterinfrastruktuur.”

*PERSVERKLARING

Lees ook: Verdagte vir moord op ma en seun vandag eers in hof