*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) herhaal ons beroep op die premier, dr. Zamani Saul, om beslissend op te tree teen alle voorvalle van korrupsie, bedrog en wanadministrasie in die provinsiale regering.
Die DA erken dat aksie deur die LUR van Paaie en Openbare Werke, Fufe Makatong, geneem is om die Hoof Finansiële Beampte van Paaie en Openbare Werke, Bradley Slingers, te skors nadat hy met R600 000 kontant in sy voertuig betrap is tydens ‘n padblokkade gedurende werksure. Hierdie kontant- in-transito-situasie vereis ‘n dringende ondersoek.
Slingers is egter nie die enigste agterdogwekkende een in dié departement nie.
Die departementshoof, Johnny Mackay, staan tereg op kriminele aanklagte vir oortreding van die Pensioenfondswet 24 van 1956 gedurende sy tyd as die waarnemende Munisipale Bestuurder van Kai !Garib. Hy is steeds in sy pos. Die LUR is voorheen berispe omdat sy versuim het om te verseker dat haar departement ‘n hofbevel met betrekking tot die beëindiging van ‘n Samex-kontrak, nakom. Nog steeds was daar geen gevolgbestuur vir diegene wat die kontrak in die eerste plek aangegaan het nie.
R&PW is nie die enigste departement wat ‘n krisis in die gesig staar ten opsigte van ‘n gebrek aan aanspreeklikheid nie.
Die gesondheidsdepartement se voormalige hoof, dr. Dion Theys, beklee steeds ‘n senior posisie ongeag ‘n kriminele skuldigbevinding met betrekking tot onreëlmatige huurkontrakte vir akkommodasie vir verpleegkundiges. Hy word ook betrek by twee afsonderlike strafsake vir die onreëlmatige verkryging van Openbare Beskermende Toerusting. Die finansiële hoof, mnr. Daniel Gaborone, is oorgeplaas as hoof van die finansies van die departement van vervoer, veiligheid en skakeling, al staan hy ook tereg op kriminele aanklagte in die Openbare Beskermende Toerusting-sake. Alhoewel appèlle en sake nog aan die gang is, is dit geen verskoning dat die departement nie sy eie interne ondersoeke gedoen het en dissiplinêre stappe geneem het nie.
Daar is baie meer gevalle in staatsdepartemente waar gevolgbestuur in die wiele gery is. Selfs die kantoor van die premier is nie hierteen immuun nie. Die adjunk-direkteur-generaal, dr Steven Jonkers, staan tereg op aanklagte van die onreëlmatige aangaan van ‘n veiligheidskontrak, maar hy is ook interne dissiplinêre prosesse gespaar.
Die ANC se versuim om die DA se mosie te ondersteun, soos vandag tydens ‘n Huissitting ter tafel gelê is, waarin ‘n beroep op die Premier gedoen is om politieke leierskap en administratiewe aanspreeklikheid te verseker, toon ‘n gebrek aan ware toewyding tot die bekamping van korrupsie. Dit is die verantwoordelikheid van die premier, en nie die howe nie, om aanspreeklikheid af te dwing en sodoende etiese leierskap en bestuur te vestig.
Die DA sal voortgaan om aan te dring op die implementering van gevolgebestuur in provinsiale departemente. In die oorlog teen korrupsie spreek dade veel duideliker as woorde.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Ma en seun vermoor, verdagte in hegtenis



