Ses verdagtes vir beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY, NOORD-KAAP. – Ses mans is Donderdagoggend vroeg met 420 kg koperkabels met ‘n geskatte waarde van R90 480 vasgetrek.

Sers. Merapelo Pilane sê lede het omstreeks 03:00 inligting ontvang van oorhoofse Transnet-koperkabels wat glo by Dronfield naby die N12 gesteel is.

‘n Operasie is in werking gestel waarna ‘n maroenkleurige Toyota Yaris met ses insittendes in Kimberley opgemerk, gestop en deursoek is. Geen verdagte voorwerpe is in die insittendes, wat glo na Beaufort-Wes gereis het, se besit gevind nie.

Later is dieselfde voertuig met Gauteng-registrasieplate opgemerk toe dit Bloemfontein ingery het. Die verdagtes kon suksesvol voorgekeer en in hegtenis geneem word. Hulle is na Kimberley geneem.

Pilane sê verdere ondersoek het aan die lig gebring die ses word vir kabeldiefstal en skade aan noodsaaklike infrastruktuur gesoek. Die koperkabels en gereedskap is opgespoor en positief as Transnet-eiendom geïdentifiseer.

Skade aan die infrastruktuur word op R124 000 geskat.

Die ses verdagtes sal binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel