VRYSTAAT. – ‘n Pa (34) van Matwabeng naby Senekal wat glo Vrydag sy dogter (5) aangespreek en begin aanrand het omdat sy laat by die huis gekom het, is vir aanranding met die doel om ernstig te beseer in hegtenis geneem. Die kind is vir mediese behandeling in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem.
AO Mmako Mophiring sê tydens die aanranding het die man glo sy kind se gesig met gom besmeer en sy het sommige van haar tande verloor. Die kind se ma en vrou van die man is oorlede.
Bure het die polisie ontbied, waarna die pa in hegtenis geneem is. Hy sal na verwagting vandag in die Senekal-landdroshof verskyn.
Die Ficksburg-GKS ondersoek die saak.
Die kind sal in ‘n plek van veiligheid geplaas word wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



