Kyk: Een dood en een kritiek toe vragmotor in huise inploeg

Deel hierdie storie / Share this story

KWAZULU-NATAL. Een persoon is oorlede en een kritiek beseer toe ‘n vragmotor vroeër vandag in drie huise in Howickstraat in Athlone, Howick, ingeploeg het.

Mi7 National Group EMS is na die toneel. Met paramedici se aankoms is verskeie voertuie gevind wat aan die kant van die pad geparkeer staan, terwyl omstanders vir hulp na verskillende huise gehaas het.

Gemeenskapslede het paramedici na ‘n huis gewys waar ‘n vragmotor deur ‘n huis geploeg het. Dit was die derde huis wat getref is. Hier het die vragmotor ‘n voertuig sonder insittendes getref voordat dit tot stilstand gekom het met die huis se dak wat op die kajuit neergesak het.

Met die aankoms van die paramedici het die vragmotor se remme vlam gevat. Lede van die publiek het dit geblus. ‘n Insittende van die voertuig is gehoor om hulp skree.

Paramedici het deur ‘n venster toegang tot die onveilige huisstruktuur gekry, waarna hulle deur ‘n dubbeldeur moes breek om by die voertuigkajuit uit te kom.

Mi7 National Group sê paramedici kon slegs die ken, regterarm en regterbeen van die bestuurder sien.

Brandbestryders van Pietermaritzburg het saam met Mi7 en Midlands EMS-paramedici met gespesialiseerde toerusting gewerk om die bestuurder van die vragmotor na ongeveer ‘n uur te bevry. Hy is in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal vervoer.

Die passasier is dood tussen rommel van die huis gevind. ‘n Derde insittende het vermoedelik voor die botsing van die bewegende vragmotor gespring en is nie beseer nie. ‘n Huiswerker en ‘n kind wat tydens die voorval in die huis was, is ook ongedeerd.

Dit wil voorkom asof die vragmotor se remme gefaal het toe dit vanaf die Athlone-sirkel in Howickstraat gery het.

Die ongeluk word ondersoek.

Bron: Mi7 National Group,

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel