Dodetal in Israel-Hamas-oorlog nou meer as 8 000

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Israel-weermag stel beeldmateriaal vry wat bewys hospitaal staan nog

GAZA. – Die dodetal in die Hamas-Israel-oorlog is nou reeds meer as 8 000, van wie die meeste slagoffers vrouens en kinders van Gaza is.

Die dodetal in Israel beloop meer as 1 400. Die meeste sterftes is gewone burgers wat op 7 Oktober deur Hamas aangeval en vermoor is.

Sowat 33 trokke is toegelaat om water, kos en medisyne na Gaza te neem om inwoners te help. Elektrisiteit en selfoondienste asook die Internet is af in Gaza.

Die Israeliese weermag het Sondag gesê meer as 450 militante teikens is in 24 uur aangeval en ‘n klomp militante het omgekom.

Die departement van internasionale betrekkings en samewerking in Suid-Afrika het beswaar gemaak teen die burgers van Gaza, insluitend duisende kinders, wat dood is. Hulle het gesê die VN moet beskerming stuur om die gewone burgers veilig te hou. Die departement het ook gesê die internasionale kriminele strafhof moet die oorlogsmisdade in Gaza ondersoek.

Die departement het verder bekend gemaak 3 257 kinders is sedert 7 Oktober dood. Minstens 3 195 kinders is in Gaza dood, 33 in die Wesbank en 29 in Israel.

Bronne: DNA, CNN, IOL

Lees ook: Israel-weermag stel beeldmateriaal vry wat bewys hospitaal staan nog