KWAZULU-NATAL. – Ntombi Futhi (49) het nie Woensdagoggend by haar werksplek aangemeld nie. Sy was vermoedelik vermis, maar haar liggaam is intussen deur familielede by ‘n lykshuis uitgeken.
Reaction Unit South Africa sê hulle is Woensdagoggend versoek om ‘n welstandsbesoek by Futhi by haar huurplek in Schoolstraat, Parkgate, te maak, nadat kollegas oor haar bekommerd geraak het omdat sy ook nie haar selfoon beantwoord het nie.
Polisielede is saam met reaksiebeamptes na haar adres. Sy was nie by haar woonplek, waar haar seun geslaap het en haar die vorige aand laas gesien het, nie, maar haar voertuig wel.
Futhi se seun het aangedui sy slaap, maar nadat geklop is, was daar geen reaksie nie. Na geforseerde toegang is Futhi se bed steeds opgemaak gevind met haar handsak met haar motorsleutels, beursie en ID in haar kas. Volgens haar seun het sy die vorige aand vir hom ete voorberei en hy is na sy kamer.
Reaction Unit South Africa het in ‘n sosialemediaplasing gesê ‘n moontlike ontvoering word vermoed. Sy was volgens die plasing na bewering voorheen deur haar man gyselaar gehou. Sy het na bewering vir haar lewe gevres en hom om ‘n egskeiding gevra.
Familie het Donderdag bevestig hulle het haar liggaam positief by Phoenix-staatslykshuis uitgeken nadat sy dood gevind is. Omstandighede van haar dood is onbekend.
Bron: Reaction Unit South Africa
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



