*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep op die premier, dr. Zamani Saul, om álle inligting rakende ‘n staatsgeborgde fees wat nooit plaasgevind het nie, en ‘n verwante onreëlmatige aanstelling wat by die departement van sport, kuns en kultuur gemaak is, aan die Spesiale Ondersoek Eenheid (SOE) te oorhandig.
Die saak hou verband met die verkwistende en vrugtelose betaling van R1,6 miljoen wat in Desember 2016 aan die Traffic Events Management Company gemaak is vir die Umsobomvu Jeugfees in Norvalspont en die onregmatige aanstelling van die direkteur van sport en ontspanning.
Voorheen het die premierskantoor ‘n taakspan gestig en ‘n verslag opgestel wat drie senior bestuurders betrek het. Maande later gaan die departement voort om dié drie geïmpliseerde amptenare te huisves. Geen dissiplinêre stappe is teen hulle geneem nie, ten spyte van die verslag wat opdrag gee dat daar teen die beskuldigdes opgetree moet word vir beide die onregmatige aanstelling én die verhaal van die R1,6 miljoen met rente.
LUR Desery Fienies moet ook nog haar implementeringsplan voorlê om aksies in bestuur, administrasie, menslike hulpbron- en finansiële bestuur binne die departement te herstel, in verband met die verslag.
Verlede maand, tydens vrae wat deur die DA gestel is, het die LUR haar daartoe verbind om ‘n skriftelike antwoord in te dien en om die aangeleentheid met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) op te volg. Dit volg op aanbevelings deur die kantoor van die Openbare Beskermer dat die saak deur die Valke ondersoek word, nadat hulle in 2020 ’n anonieme klag ontvang het.
Fienies moet nog terugvoer gee óf haar implementeringsplan voorlê. Na haar algehele verontagsaming van die afdwinging van aanspreeklikheid binne die departement, moet die Premier leiding neem en dringend sy plig as die uitvoerende gesag van hierdie provinsie uitoefen om te verseker dat korrupsie binne die departement uitgeroei word.
Die DA het ‘n brief aan die Premier ingedien waarin gevra word dat die verslag aan die SOE oorhandig word, aangesien dit twyfelagtig is, gegewe die departement se versuim om die Premier se instruksies te volg om teen die betrokke amptenare op te tree, dat die departement sou opgetree het in reaksie op aanbevelings wat die kantoor van die openbare beskermer gemaak het om die saak aan die Valke te oorhandig.
Die DA sal nie ‘n gebrek aan aanspreeklikheid deur hierdie departement ten koste van kunstenaars, sportmanne en -vroue, waar openbare fondse betrokke is en waar dienslewering steeds in die gedrang kom deur die departement se versuim om ferm op te tree teen korrupsie, duld nie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Is jy moeg vir misdaad?



