GAUTENG. – ‘n Bekende pa van die omgewing en sy kinders is Woensdagoggend vroeg omstreeks 01:00 glo in hul huis op ‘n kleinhoewe in die noorde van Pretoria deur gewapende rowers oorval en vir ure vasgebind, terwyl hul huis geplunder en hulle besteel is.
AO Johan van Dyk sê die gesin het glo geslaap toe drie onbekende gewapende mans in ‘n kamer verskyn en die gesin met vuurwapens gedreig het om stil te bly. Hulle is hierna vasgemaak.
Die verdagtes het na bewering vir die kluis, wat binne-in ‘n kas was, gevra, maar omdat die battery pap was, is die kluis oopgebreek.
Die huis is glo geplunder en die booswigte het na ure met televisiestelle, skootrekenaars, selfone, juwele en bankkaarte van die toneel gevlug.
Een van die gesin kon glo loskom en het die ander ook losgemaak, waarna die pa omstreeks 03:45 hulp ontbied het en een van die gesin na Montana-hospitaal geneem is.
Geen skote is geskiet en niemand is tydens die roof beseer nie, maar die gesin is getraumatiseerd.
Cobie Jansen van Rensburg van die GPF in die omgewing sê aan FiND iT dat daar meer sulke gevalle gedurende die week in die omgewing plaasgevind het.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



