Korrupte amptenaar van Binnelandse Sake het bedrieglike paspoorte tydens verlof verwerk

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Konstitusionele Hof verklaar deel van Egskeidingswet ongrondwetlik

’n Amptenaar van die departement van binnelandse sake wat aan bedrog skuldig bevind is, is tot 10 jaar agter tralies gevonnis.

Nhlanhla Mathebula (39) is vandeesweek in die Nelspruit-handelsmisdaadhof skuldig bevind aan korrupsie en oortreding van die Immigrasiewet.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê die beskuldigde is skuldig bevind op 12 aanklagte van korrupsie en 13 aanklagte van oortreding van die Immigrasiewet.

Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, het gesê Mathebula was ‘n werknemer van die departement van binnelandse sake wat by Witrivier, Mpumalanga gestasioneer is. “Gedurende Mei 2021 het die beskuldigde onwettige paspoortaansoeke vir onwettige immigrante verwerk. Tydens die proses sou hy die foto van die Suid-Afrikaanse burger met dié van ‘n buitelander ruil. Hierdie aansoeke sou gewoonlik laat in die nag en soms in die vroeë ure van die dag verwerk word.” Mathebula sou kantoor toe gaan om die aansoeke te verwerk, selfs wanneer hy met verlof was. Hy is ’n bedrag wat wissel van R1 000 tot R5 000 per aansoek betaal.”

Die NVG het gesê Mathebula is gevang nadat een van sy “kliënte” hom met ‘n kollega by Binnelandse Sake verwar het toe hulle met ‘n vals paspoort gehelp wou word. “Die saak is by die Valke aangemeld en ondersoeke het gevolg, wat tot die arrestasie gelei het.”

Tydens die verhoor het senior staatsadvokaat Themba Mavundza aan die hof gesê dat hierdie soort misdade die reputasie van die land beïnvloed, daarom moet die hof ‘n vonnis oplê wat oortreders sal afskrik. Mathebula is tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, en die hof het beveel dat die bedrag geld wat die beskuldigde as vergoeding tydens die pleging van die misdryf ontvang het van die beskuldigde se pensioenfonds verhaal en na die kriminele batesherwinningsrekening oorgeplaas word.

“Die hof het ook ‘n bevel gemaak dat die paspoorte wat die beskuldigde uitgereik het aan die staat verbeur word,” het Mathebula afgesluit.

#Korrupsie #BinnelandseSake #Afrikaans #Nuus

Bronne gebruik: IOL; News24; TimesLive.