*PERSVERKLARING
Nadat die Noord-Kaapse departement van gesondheid deurlopend onder druk geplaas is om sy twyfelagtige veiligheidskontrak aan te spreek, is daar berigte dat die omstrede Defensor-veiligheidskontrak uiteindelik beëindig is.
Die DA verwelkom dié beëindiging, al was dit agterstallig. Dr. Isak Fritz, LPW, het gesê: “Ons sal ‘n volledige verslag oor sekuriteitsmaatreëls, wat op kort en lang termyn geïmplementeer moet word, versoek.”
“Die gebrek aan voldoende sekuriteit by Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) is onlangs ontbloot toe ‘n baba tydens ‘n salarisverwante staking deur personeel van die sekuriteitsmaatskappy ontvoer is. Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, het toegegee dat die staking die ontvoering moontlik gemaak het. Dit is nie die enigste sekuriteitsmislukking wat by RMSH plaasgevind het nie, waar toegangsbeheer grotendeels ontbreek.”
“Dit is ook voorheen onthul dat die uitkontraktering van sekuriteitsdienste deur die departement tot R427 miljoen se onreëlmatige uitgawes gelei het weens maand-tot-maand-kontrakte. ‘n Voormalige departementshoof (HOD), dr. Steven Jonkers, is ook onder die amptenare wat betrokke is by ‘n hofsaak wat verband hou met ‘n tender van meer as R300 miljoen, vir die lewering van sekuriteitsdienste in 2017 deur die betrokke maatskappy.”
“Die DA sal druk op LUR Lekwene hou om te verseker dat die aanstelling van ‘n nuwe kontrakteur en opgradering van sekuriteit deursigtig en spoedig afgehandel word. Dit moet die heraktivering van die RMSH en Dr. Harry Surtie-hospitaal se sekuriteitskameras en biometriese stelsels insluit.”
“Die proses om sekuriteitsbeamptes binne die departement van gesondheid in te faseer, moet ook bespoedig word.”
“Gegewe ‘n verbintenis deur Lekwene om die sekuriteitskontrak teen jaareinde te finaliseer, doen ons ‘n beroep op die departement om ‘n tydelike verval in sekuriteitsdienste te voorkom.”
“Dit is veral belangrik met betrekking tot die departement se voorlegging verlede jaar, dat hulle ‘n sekuriteitstender drie keer moes heradverteer weens ontwrigtende betrokkenheid deur plaaslike sakeforums wat twee agtereenvolgende sub-inligtingsessies ontwrig het. Dit het die departement verhinder om vorentoe te beweeg met ‘n regmatige kontrak. Dit is soortgelyk aan die mafia-styl betrokkenheid by tenders landwyd en moenie geduld word nie.”
“Die DA het parlementêre vrae ingedien om vas te stel hoe die departement beplan om personeel en pasiënte veilig te hou, die prosesse wat gevolg word ten opsigte van die aangaan van ‘n wettige kontrak, en of onderbrekings in prosesse deur sakeforums voortduur.”
“Mense se lewens moet beveilig word, nie in gevaar gestel word wanneer hulle gesondheidsfasiliteite besoek nie.”
*PERSVERKLARING



