Vrystaatse boere sukkel om te herstel na erge brande

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Drie brande steeds ongeblus in die Vrystaat

Boere in die Vrystaat sê dit sal tyd neem om te herstel van die verwoestende brande wat onlangs verskeie plase in die provinsie verwoes het. Veldbrande is die naweek deur sterk wind vererger.

Geaffekteerde gebiede sluit Brandfort, Verkeerdevlei en Winburg in. Brande het tot by Clarens in die ooste van die provinsie versprei. Op Brandfort alleen is altesaam 13 boere geraak terwyl meer as 9 500 hektaar grond verbrand is. Boere het groot verliese in weiding, oeste, vee, wild en infrastruktuur gely deur woedende brande wat Saterdagmiddag begin het.  Nasionale paaie is ook gesluit om voertuigongelukke te vermy. Sedert Mei 2023 is altesaam 3 400 veldbrande in die provinsie aangeteken. 

‘n Plaaslike boer op Brandfort, Petri Bezuidenhout, sê hulle verliese beloop miljoene rande. “Dit is emosioneel en maak mens eintlik kwaad. Maar ’n mens moet sterk bly, vorentoe beweeg en ’n plan maak.”

Nog ‘n boer, De Klerk Fourie, sê daar is nog geen inligting oor die oorsaak van die brande nie, maar boere wens vir ’n bietjie reën. “Ons het reeds skenkings van sommige mense ontvang. Ons maak staat op hierdie en reën sodat ons hierdeur kan lewe.”

Plaaswerkers is ook bekommerd of hulle dalk hulle werk sal verloor. “Die brande het ons baie bang gemaak, want dit is waar ons werk en met soveel skade weet jy nie of die boer die aantal werkers gaan sny nie, want hy weet ook nie wat om te doen nie. Dit was skrikwekkend. Ons het in daardie woedende vuur agter diere aangehardloop, maar ons was ook bang vir ons lewens.”

Volgens die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die provinsie word meer brande verwag, aangesien die veldbrandseisoen nog in volle swang is. Die hoof van die departement, dr. Takisi Masiteng,, sê: “As die departement van landbou en landelike ontwikkeling is ons bewus van die brande wat sedert Mei meer as 345 000 hektaar weiveld beskadig het weens 3 400 voorvalle van brande.”

Die departement sê dit sal voortgaan om die situasie te monitor.

#Boere #Vrystaat #Brande #Nuus

Bronne gebruik: SABC Nuus.