KWAZULU-NATAL. – Die sogenaamde “Scottsville Shooter” wat die Universiteit van KwaZulu-Natal se studente oor ‘n tydperk van maande geterroriseer het, is na bewering Vrydagaand deur sekuriteitsbeamptes tot stilstand gedwing en het aan ‘n skietwond gesterf.
Mi7 National Group sê die man kan vermoedelik aan ongeveer twee dosyn misdade waartydens studente in universiteitverblyf en die strate van Scottsville en Pelham beroof is, verbind word. Die “Scottsville Shooter” het sy naam gekry toe ‘n student tydens ‘n roof in September 2022 in die voet geskiet is.
Waseem Pakker, ‘n gewapende reaksiebeampte, is op 28 Januarie 2023 deur die beheerkamer na ‘n toneel ontbied waar ses vriendinne ‘n huis gehuur het. Die vroue is glo die aand deur ‘n gewapende man oorval toe hulle by die huis kom. Sithokozile Dlamini (39) is tydens die insident dood en nog ‘n persoon is beseer.
Pakker het dadelik vermoed die Scottsville Shooter, wat reeds ‘n geruime tydperk selfone, skootrekenaars en waardevolle besittings van studente steel, kan moontlik betrokke wees.
Oor ‘n tydperk van maande is daar sonder sukses deur verskeie wetstoepassingsagentskappe na die vermeende verdagte gesoek. Vrydagaand is ‘n onverwagse wenk oor die verdagte ontvang en ‘n soektog is dadelik van stapel gestuur. ‘n Man wat aan die beskrywing van die “Scottsville Shooter” voldoen, is in Jesmondstraat opgemerk. Hy het egter weggehardloop, waarna hy te voet gevolg is.
Die verdagte het glo in die hardloop omgedraai en ‘n vuurwapen op ‘n reaksiebeampte gerig, wat dadelik reageer het en na die verdagte geskiet het.
Die verdagte het oor ‘n muur in ‘n erf ingeval waar hy dood verklaar is.
‘n Vuurwapen, mes en rugsak met klere is glo in sy besit gevind.
Die polisie is besig met ‘n ondersoek om vas te stel of die man aan die vlaag misdade in Scottsville en Pelham verbind kan word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



