Lees ook: Hofdokumente sê Oscar Pistorius moes al in aanmerking vir parool gekom het
Ouers word gewaarsku die Blue Whale-selfdoodspel het blykbaar ‘n terugkeer gemaak na ‘n Britse man glo onlangs tydens die spel in Portugal doodgemaak is.
Die Brit (35) is glo tydens die spel in ‘n woud doodgesteek na ‘n argument met ‘n groep vriende. ‘n Man (26) het na die moord by die polisie aangemeld. Die polisie ondersoek die voorval.
Die Blue Whale-selfdoodspel het in 2015 in Rusland begin. Spelers, dikwels tieners, moet 50 uitdagings in 50 dae voltooi.
Die uitdagings begin gewoonlik klein soos kyk na ‘n bangmaakfliek en word dan erger tot die speler homself seermaak en later doodmaak. Spelers praat aanlyn met ‘n anonieme persoon, ‘n “opsigter” genoem, wat hulle probeer druk om selfdood te pleeg.
Mense is in die VSA, Indië, Egipte en Oekraïne oorlede as gevolg van die spel. Altesaam130 mense is glo al dood na hulle aan die spel deelgeneem het. Die man, Phillipp Budeikin, wat gesê het hy het die spel begin, is in 2017 skuldig bevind vir sy rol in 17 mense se dood.
Ouers is gewaarsku om hulle kinders dop te hou en op te let na veranderinge in hulle buie en gedrag. Ouers moet op die uitkyk wees vir gevaarlike gedrag, selfdoodpraatjies, ‘n vrees vir sosiale media en tekeninge van blou walvisse.
Bronne: The Jerusalem Post, LBC, Mail Online
Lees ook: Kimberley 4 Kimberley vordering so ver



