Pa wat sy vierjarige seun vermoor lewenslank tronk toe gestuur

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Nhlanhla Buthelezi (34) is lewenslank in die Hooggeregshof in Johannesburg tronk toe gestuur vir die moord op Bafana Ntuli (4), sy seun, op 2 September 2022 in Snake Park.

Die NVG in Gauteng sê in ‘n verklaring die beskuldigde was besope toe hy die betrokke oggend van die moord na Zamokuhle Ntuli, sy meisie, se woning gegaan het waar ‘n argument ontstaan het. Voor hy weggeloop het, het hy gesê: “There will be a movie today.”

Die vermoorde kleuter was later die dag saam met gesinslede en sy tante by die huis toe Buthelezi omstreeks 19:00 opdaag en na Ntuli vra en weer daarna geloop het. ‘n Ruk later het hy weer teruggekeer en die kleuter saam met hom die straat in gesleep.

Die kleinding se tante is agterna en het vir Buthelezi gesê om op te hou om die seun te sleep. Buthelezi het gestop, maar die kleuter toe verskeie kere met ‘n mes gesteek. Die tante het weggehardloop en om hulp geskree, waarna Buthelezi gevlug en sy seun net so gelos het.

Gemeenskapslede wat die tante en kleuter te hulp gesnel het, het Buthelezi gaan soek, opgespoor en op die moordtoneel aan die polisie oorhandig, waar hy in hegtenis geneem is.

Adv. Allie Keith Mathebula het tydens verswaring van die vonnis geargumenteer die beskuldigde was by sy positiewe toe hy die misdaad beplan het, aangesien hy verskeie kere na die oorledene se huis gegaan het, die dreigement gemaak het van ‘n film wat sal speel, sy vaderskap van die oorledene betwis het en ‘n wapen wat hy vir die misdaad gebruik het, by hom gedra het.

Regter Kumalo het tydens vonnisoplegging gesê ‘n onskuldige kind se lewe is geneem en geen berou sal hom terugbring nie en dat geen omstandighede die hof sal oortuig om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel