KZN. – ‘n Verdagte wat Woensdag probeer het om uit ‘n meubelwinkel in Wickstraat te breek, is in hegtenis geneem.
Reaction Unit South Africa het omstreeks 18:52 ‘n oproep ontvang van ‘n man wat kapgeluide vanuit die meubelwinkel kon hoor.
Reaksiebeamptes het polisielede op die toneel aangetref. ‘n Bestuurder is ontbied om die winkel oop te sluit, maar terwyl daar vir die persoon gewag is, het die geluide stil geraak.
Daar is besluit om die winkel binne te gaan en te deursoek. Die alarmsisteem van die winkel is beskadig en daar was ook ‘n gat in die plafon. Sement in die dak het egter ontsnapping deur die plafon verhoed. Daar is verder gesoek en die verdagte is onder ‘n bed gevind.
Hy het verduidelik hy is na bewering per ongeluk in die winkel toegesluit en het probeer om met ‘n breekyster, wat hy glo in die winkel gevind het, uit te kom. Volgens hom het hy boonop die hulp van ‘n familielid versoek, maar kon nie verduidelik waarom hy weggekruip het of die alarmsisteem beskadig is nie.
Verulam-polisie het hom in hegtenis geneem.
Bron: Reaction Unit South Africa
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



