THOHOYANDOU, POLOKWANE, LIMPOPO. – ‘n Ouma (44) wat haar kleindogter (20 dae oud) glo op 13 September 2023 in Tshidaulu in Mbilwi-woonbuurt in Vhembe-distrik, uit haar tienerdogter (16) se bed gesteel en die polisie om die bos gelei het, is vir kinderdiefstal en regsverydeling in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê die tienerma het die volgende oggend 05:00 wakker geword om skool toe te gaan en agtergekom haar babadogter is nie meer in haar bed, in ‘n gedeelde kamer, nie.
Nadat die baba nie gevind kon word nie, het die ouma ‘n saak van ‘n vermiste persoons namens haar minderjarige dogter by Thohoyandou-polisiestasie aangemeld.
Die ouma het glo telefonies vir die polisie gejok oor waar sy haar bevind, maar is gesien waar sy met ‘n sak loop. Na ‘n soektog deur die Makhado-honde-eenheid is die baba by ‘n verlate huis gevind.
Die baba is na die polisiestasie se traumasentrum geneem.
Met ondervraging het die ouma erken sy het die baba gesteel en ‘n vals klagte gelê. Sy is in hegtenis geneem en die baba is met die tienerma herenig. Die ouma sal Maandag 18 September vir klagtes van kinderdiefstal en regsverydeling in die Thohoyandou-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Kol. Ledwaba sê die moontlikheid van ‘n klag van statutêre verkragting van die minderjarige ma is in oorweging.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



