Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) om die indiening van kriminele klagtes teen Sol Plaatje-munisipaliteit, ten opsigte van die White City-rioolramp van 2021, nie verder uit te stel nie. Tans hou Sol Plaatje inwoners, wie se huise en besittings deur ‘n massiewe rioolstorting vernietig is, op ‘n lyntjie.
Voormalige White City-inwoners van Wyk 2 het verlede week by Sol Plaatje saamgekom nadat die munisipaliteit versuim het om binne die vasgestelde tydperk van 30 dae, goedgekeurde eise aan inwoners uit te betaal. Betalings is reeds meer as ‘n maand agterstallig. Dit is ten spyte daarvan dat ‘n bedrag van R5 miljoen toegeken is vir vergoeding vir beskadigde meubels aan inwoners van Wyke 17, 7 en 2. Betalings is reeds gemaak aan inwoners van die eerste twee wyke.
White City-inwoners is moeg vir verskonings. Sestien huishoudings het sedert 2021 drie keer dieselfde eise ingedien. Terwyl die mosie vir die meubeluitbetalings op 20 Junie 2023 in die raad goedgekeur is, is daar nou verskonings oor versekeringsverwante vertragings en die behoefte aan ‘n verdere interne ondersoek.
Inwoners van White City het ‘n martelende paar jaar verduur nadat hul huise deur riool verswelg is. Hulle het geen ander keuse gehad as om te hervestig nie. Dit was verdere traumaties om te sien hoe hul huise deur vandale weggedra is. Vandag is hul huise bloot skulpe van geboue.
Hulle verdien beter behandeling deur die munisipaliteit, wie se rioolverwanteprobleme hierdie ramp in die eerste plek veroorsaak het.
Na talle besprekings met die SAMRK, waarvan die mees onlangse net twee weke gelede plaasgevind het, doen ek ‘n beroep op hulle om hul voorgenome kriminele optrede teen die munisipaliteit te bespoedig. Sol Plaatje versuim stééds om volle verantwoordelikheid te neem vir hul infrastruktuurmislukkings. Dit is tyd dat hulle hiervoor aanspreeklik gehou word.
*PERSVERKLARING
Lees ook: ‘Pastoor’ wat jong mense verkrag tot 55 jaar tronkstraf gevonnis



