Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap het verlede week ons teenkanting teen die Wysigingswetsontwerpe op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars en Outeursreg aangeteken.
Die portefeuljekomitee oor Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling & Toerisme het vergader om te besluit of die Noord-Kaapse afgevaardigde aan die Nasionale Raad van Provinsies ‘n mandaat gegee gaan word om hierdie wysigingswetsontwerpe te ondersteun. Ons het ons teenkanting sterk uitgespreek. Ons glo dat ons kunstenaars, akteurs, aktrises, en skeppers geregtig is op sterker beskerming, soos wat die internasionale standaarde voorskryf. Dit is veral belangrik vir ‘n provinsie met die kultuurskatte van die Noord-Kaap, wat die unieke Nama- en Santale insluit.
Hierdie twee wysigingswetsontwerpe slaag egter nie in hierdie doel nie. Dit versuim eerder om die beste belange van kunstenare en skeppers te beskerm. Daar is byvoorbeeld nog geen behoorlike sosio-ekonomiese impakstudie gedoen om die impak van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op verskillende bedrywe te bepaal nie.
Ons is bly dat die Wes-Kaapse provinsiale parlement hul afgevaardigde ‘n sterk mandaat gegee het om hierdie wetsontwerpe af te skiet. Die negatiewe impak op uitvoerende kunstenaars en skeppers is beduidend. Ons kan nie verplig word om swak wette te aanvaar bloot omdat die parlement se ampstermyn tot ‘n einde kom nie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: DA lê kriminele klagtes teen EFF na chaotiese vergadering



