BENONI, GAUTENG. – Linda Venter (37) en haar seun Brayden (11) is Dinsdag 29 Augustus 2023 gedurende die dag brutaal in hulle erf in Swellendamstraat, Brentwood Park deur hulle gesin se hond, Zeus, aangeval en verskeur.
Philip Stoneman, Venter se swaer, het ‘n paar sosialemediaplasings oor hoe dit met ma en seun gaan, gemaak. Hy het ook ‘n gebedsgroep op WhatsApp begin en ‘n BackaBuddy-profiel vir finansiële ondersteuning vir mediese uitgawes, rehabilitasie, prosteses en verlies vir inkomste, geskep.
Hy het gesê nooddienste en die gemeenskap het op die dag van die voorval die beseerde ma en seun as ‘n eenheid bygestaan.
Linda is in ‘n kritieke toestand na Netcare Alberton-hospitaal gevlieg waar sy in ‘n geïnduseerde koma geplaas is en haar regterarm by die skouer geamputeer is. Sy sal weer Maandag teater toe gaan sodat daar aandag aan haar linkerarm gegee kan word.
Brayden is na Netcare Linmed-hospitaal geneem waar hy mediese behandeling vir bytwonde aan sy gesig, arm, been en boud behandel word.
Stoneman sê vir beide ma en seun lê ‘n lang pad na mediese en emosionele genesing voor. Marius Venter pendel tussen hospitale om by beide te wees.
‘n Sosialemediaplasing van Flashpoint Ministries het Sondag gesê Brayden se pyn word met morfien behandel en hy lyk goed. Daar is ook genoem Linda het haar oë oopgemaak en daar is reaksie.
Volgens Benoni City Times is die gesinshond, ‘n kruising tussen ‘n Deense hond en boelterriër, wat deur Benoni DBV uitgesit is. Venter se ander twee seuns, Brian en Brendan, het as gevolg van bure se ingryp geen beserings opgedoen nie, maar erge trauma ondervind.
https://www.backabuddy.co.za/linda-venter-5694114255913642754
Bron: BackaBuddy, Flashpoint Ministries, Benoni City Times, Rekord en Philip Stoneman Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



