DA se Gamagara-burgemeester heraangestel

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Toeriste in Algerië doodgeskiet

GAMAGARA, NOORD-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) is verheug dat Henriette du Plessis as die burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit heraangestel is totdat die DA se hofstryd teen haar onwettige verwydering weer op 13 September hervat word.

Die hooggeregshof in Kimberley het gister beslis dat die stadsbestuurder van Gamagara en die twaalf ander respondente in die saak verbied word om enige besluite te neem of enige aksies te onderneem ingevolge die besluite van die Raad op 7 Augustus. Die uitspraak maak dus die verwydering van Du Plessis deur ‘n mosie van wantroue deur die ANC- en EFF-doemdagkoalisie én die daaropvolgende verkiesing van ‘n ANC-burgemeester ongeldig. Die uitspraak maak ook die verwydering van die Gamagara- Gemeenskapsforum Speaker, Shepherd Mines, en die daaropvolgende verkiesing van ‘n EFF-Speaker ongeldig.

Gister se hofbevel is ‘n oorwinning vir demokrasie, vir die wetlike prosesse en vir die mense van Gamagara. Dit moet ook dien as ‘n waarskuwing aan politieke partye dat onwettige magsvergrype in die raad, wat poog om toegang tot hulpbronne te verkry ten koste van dienslewering, nie geduld sal word nie.

Die DA-burgemeester het gedurende haar twee maande in die pos ‘n groot impak in die Gamagara-gemeenskap gemaak en het duidelik gewys watter verskil ‘n DA-administrasie kan maak. Dit sluit onder andere in dat ‘n begrotingstekort van R47 miljoen binne 10 dae nadat sy ingesweer is, in ‘n oorskot van R19 miljoen omgeskakel is. Binne haar eerste week het Du Plessis ook van ‘n luukse burgemeestersvoertuig ontslae geraak en twee bakkies gehuur vir gebruik deur die elektrisiteits- en paaiedepartemente.

Du Plessis sal geen tyd mors om vandag weer aan die werk te spring nie. Sy beplan ook om op te tree op die skade wat die ANC/EFF die afgelope drie weke aangerig het. Dit sluit in om die stadsbestuurder aanspreeklik te hou vir verkwistende en vrugtelose uitgawes nadat geld spandeer is om die slotte aan haar kantoordeur te verander, om haar te keer om haar pligte uit te voer. Dit behels ook die kansellasie van ‘n nuwe huurkontrak vir ‘n Audi, wat deur die burgemeester aangegaan is, en die huur van ‘n bakkie vir die EFF-speaker.

“Terwyl ons later vandeesmaand weer in die hof sal wees om die mosie verder uit te daag, doen ons ‘n beroep op Gamagara-munisipaliteit om politiek opsy te skuif en om toe te laat dat die prioritisering van dienste in Gamagara onder die DA-burgemeesterskap seëvier.” – DA

*PERSVERKLARING

Lees ook: Toeriste in Algerië doodgeskiet