Eksklusief: Traumatiese pad na herstel vir meisie (6) na fratsongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

SCHWEIZER-RENEKE, NOORDWES. – Liana (6) het op 24 Mei 2021 tydens ‘n fratsongeluk erge brandwonde aan haar gesig en nek opgedoen. Mediese behandeling daarvoor laat haar telkemale trauma en vrees ervaar.

Amanda du Preez vertel aan FiND iT hoe sy net die dag vantevore, na sy van ‘n ander tipe voorval op Facebook gelees het, vir haar ma gesê het sy weet nie wat sy in so ‘n situasie sou doen indien haar dogter so iets moes oorkom nie en dat sy haarself nie in so ‘n persoon se skoene kan plaas nie.

Sy vertel emosioneel van die middag wat hulle almal se lewens verander het toe sy ná werk gesien het hoe haar dogter se vel van haar af gebrand is. As ouers was hulle fanaties om vir hulle dogter dringend mediese hulp te kry. Die moeilike ervaring van jou kind wat vir ure huil van pyn is vir ewig in hul geheue ingekerf. Amanda sê alhoewel sy dadelik burnshield gekry het, moes hulle letterlik wag vir normale opnameprosedures soos ‘n lêer wat eers oopgemaak moes word. Die persoon wat bloed moes trek en ‘n drup moes aansit vir pynmedikasie kon boonop nie ‘n aar kry nie en hulle moes vir vier uur vir ‘n persoon uit die teater wag om hulle kind se drup aan te sit sodat sy morfien kon ontvang.

Tog was dit nie die einde nie. Toe die dooie velle afgeskrop is en hulle halftwee die nag met Liana in ‘n saal toegelaat word, moes hulle haar alleen agterlaat en is slegs een persoon per besoektyd by haar toegelaat – Mamma in die middag en Pappa in die aand.

Amanda sê Liana was vir amper twee maande in die Klerkdorp-staatshospitaal. Veloorplantings is gedoen en sy moes elke maand rekonstruktiewe chirurgie vir die littekenweefsel ondergaan .

“Tydens ontslag was die dokters tevrede met die operasies wat uitgevoer is. Ek het haar twee keer teruggeneem en die dokters was so tevrede, hulle het gesê sy hoef nie weer terug te gaan nie. Sy is ook nie vir fisioterapie gestuur nie.”

Mamma Amanda het egter na ‘n ruk agtergekom die wonde is opgehewe, asof vergroeisels vorm. Sy het Liana teruggeneem na die dokters toe wat gesê het sy is veronderstel om reg te wees.

“Die eerste prosedure was nie reg gedoen nie.”

“‘n Plastiese chirurg het, terwyl ek met ‘n suster gepraat het, binnegekom, Liana raakgesien en haar dadelik sy pasiënt gemaak.”

Amanda verduidelik hulle is tans besig om Liana se hele regteroor te herbou. Maar dit gebeur stukkie vir stukkie en die chirurg kan nie alles regmaak nie.

Liana ondervind as gevolg van al die trauma paniekaanvalle.

Die jong meisie gaan nie net deur die trauma van die operasies nie, maar lyk ook anders as haar maats en moes al afknouery ervaar, maar Amanda sê dit is tans onder beheer. Liana wil met geen berader werk nie en hulle as familie ondersteun haar emosioneel om onsensitiewe opmerkings soos “jy is lelik” te verwerk.

Elke keer wat Liana ontslaan word, doen sy haar skoolwerk tuis en kan Amanda nie help om te spog nie: “Sy kom nog elke kwartaal met 7’s op haar rapport deur.”

Wat lê vir hierdie jong dogter voor?

Sy moet nog vir minstens die volgende twee jaar laserbehandeling ontvang, asook enige ander behandeling wat nodig geag word.

“Die staatshospitaal doen nie die laserbehandeling nie. Ons sal dit privaat moet laat doen en tans gaan dit maar taamlik broekskeur nadat ek my werk moes bedank om voltyds na Liana te kyk. Na ‘n opname het sy fisiese wondversorging nodig. Somtyds word sy ontslaan en die hospitaal het nie wat voorgeskryf word om met haar instandhoudingsbehandeling voort te gaan nie en dan moet ons wat ookal nodig is privaat aankoop. Om deur te kom, moes ons noodgedwonge ‘n BacknBuddy-profiel skep.”

“Maar hulle sê die Vader sal nooit iets oor jou pad stuur wat jy nie kan hanteer nie en Hy is elke tree saam met mens op daai pad.”

https://www.backabuddy.co.za/liana-rheeders-5664511929717873519

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel