CHRISTCHURCH, NIEU-SEELAND. – Andrew McRae, staatsaanklaer, en Kerryn Beaton, prokureur vir die verdediging in die Lauren Dickason-saak, se slotbetoë is in die hooggeregshof aangehoor.
Lauren Dickason (42) het na bewering haar drie dogtertjies, Liané (6), sowel as Maya en Karla (2) gedurende September 2021 by hul huis in Timaru om die lewe gebring en daarna gepoog om haar eie lewe te beëindig.
Dickason het erken dat sy die moorde gepleeg het, maar het onskuldig gepleit op moord en haar op waansin en kindermoord beroep.
In die verhoor wat op 17 Julie ‘n aanvang geneem het, is getuienis aangehoor wat duidelik in twee kampe opgedeel is. Die verdediging, wat aanvoer sy het haar kinders uit ‘liefde’ doodgemaak, en die staat wat glo sy het haar kinders vermoor.
McRae het in sy slotbetoë aan die jurie voorgehou dat hulle seker is dit is ‘n saak van moord. Hy sê Dickason het die drie meisies uit woede en omdat sy beheer wou uitoefen, vermoor. Hy hou vol sy het geweet wat sy doen en wat die gevolge sou wees, maar het nie gestop nie. Hy sê verder al was sy depressief, was haar toestand nie so sleg dat dit as verweer kan voorgehou word nie en moet sy vir haar dade verantwoordelik gehou word. Die jurie moet ook volgens hom Dickason se geloofwaardigheid in ag neem.
Beaton, vir die verdediging, het voorgehou Dickason se dade het met geestesongesteldheid en nie moord nie te doen. Dit was die dade van ‘n baie siek vrou wat nie ‘n dag langer wou leef nie en besluit het om ‘n einde aan alles te maak. Sy wou egter nie haar dogters agterlaat nie en wou hulle saam met haar laat sterf. Beaton is van mening hierdie is die tipe saak waarom die wet vir kindermoord ontwerp is.
Op Maandag 14 Augustus 2023 sal regter Cameron Mander die saak opsom en die jurie wegstuur om oor ‘n uitspraak te beraadslaag.
Bronne: New Zealand Herald, RNZ en 1News
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



