BLOEMFONTEIN. – Twee polisielede, onderskeidelik 32 en 34 jaar oud, wat glo op 7 Julie 2023 geld vir die vrylating van ‘n verdagte geëis het, is op Vrydag 11 Augustus in hegtenis geneem en het vlugtig in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Hulle sal in aanhouding bly.
Kapt. Loraine Earle sê die dossier is vir beslissing na die direkteur van openbare vervolging gestuur wat besluit het om die lede te vervolg. Hulle word van regsverydeling, ontvoering en afpersing beskuldig.
Die teen-korrupsie-eenheid het inligting ontvang van die twee konstabels wat geld van ‘n immigrant geëis het om sy vriend uit aanhouding vry te laat. ‘n Operasie is uitgevoer waarin die klaer van geld voorsien is en onder observasie gehou was. Die verdagte lede het hom van die gearresteerde vriend se selfoon geskakel om die geld soos afgespreek in ontvangs te neem. Hulle is deur die teen-korrupsie-eenheid voorgekeer. ‘n Persoon is agter in die polisiebakkie gevind.
Die lede sal op Maandag 14 Augustus vir regsverteenwoordiging en borgtogaansoeke in die hof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



