Aanduidings dat ’n tweede kontrakteur aangestel is om die stukkende, ondergrondse waterpypleiding in Warrenton te herstel, voorspel niks goeds vir inwoners wat reeds die helfte van die jaar sonder water sit nie.
Beloftes dat water teen einde Julie herstel sou wees, soos deur COGHSTA LUR Bentley Vass belowe is, het nie gerealiseer nie. Die feit dat die se -maande lange herstelproses weer oor moet begin, is ‘n groot terugslag vir plaaslike inwoners wat gehoop het dat hulle uiteindelik hul lewens en besighede weer op dreef sou kon kry. Dit volg ná die verwoestende vloede van 21 Februarie 2023.
Die DA het in Junie ’n beroep op die munisipaliteit en die departement van water en sanitasie gedoen om die groeiende uitdagings van die gekontrakteerde duik-herstelmaatskappy proaktief aan te spreek. Teen daardie tyd het die waterstelsel reeds vier keer gebreek. Elke keer moes die maatskappy oor begin. Dit is ten spyte daarvan dat die maatskappy aangedui het dat die installasie ‘n “klein werkie” was.
Dit is nou sewe weke later en die munisipaliteit is terug waar dit begin het. Dit beteken dat Magareng nog weke indien nie maande nie, weg is van ‘n werklike oplossing.
Daar moet deursigtigheid en aanspreeklikheid wees ten opsigte van die onnodige lyding waardeur inwoners van Magareng moet gaan.
Afgesien van die gebrek aan lopende water, versuim die munisipaliteit ook om voldoende en volhoubare voorsiening van tenkwater aan geaffekteerde gemeenskappe te verseker. Sedert die vloede was die DA daagliks op die grond. Ons monitor en help met die verspreiding van water. Ons kan getuig van die feit dat daar ‘n kritieke gebrek aan bestuur oor die waterverspreidingsproses is en dat die watertrokke wel weghardloop en nie verseker dat alle inwoners toegang tot water het nie.
Die DA het die jongste Magareng-waterkrisis by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aangemeld om die langdurige skending van die reg op toegang tot water te ondersoek. Ons dring ook daarop aan vir duidelikheid ten opsigte van die tweede kontrakteur-aanstelling en versoek dat die waterverspreidingsproses beter bestuur word, sodat die beweging van watervragmotors gemonitor kan word.
Magareng-inwoners moenie gestraf word weens die munisipaliteit se versuim om hierdie langdurige waterkrisis op te los nie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Gesondheidswerker in hospitaal se hysbak met hamer geslaan, beroof



