’n Liggaamsbouer is dood ná ’n grusame gewigstootongeluk in Bali.
Justyn Vicky (33) het verlede Saterdag ‘n hurksit (squat) by The Paradise-gimnasium gedoen met ‘n gewig van meer as 200 kilogram terwyl ‘n oefenmaat agter hom gestaan het, het Bali Discovery berig.
In ‘n video wat op sosiale media die rondte doen, kan gesien word hoe Vicky afsak om die hurksit te doen, maar nie weer kan opkom nie. Die video is geneem omdat dit ‘n rekordgewig sou wees wat hy hurksit.
Die gewig het glo Vicky se kop vorentoe gedruk en sy nek gebreek. Bali Discovery berig die liggaamsbouer is hospitaal toe gehaas, maar het aan sy beserings beswyk.
Die Paradise-gimnasium het Vicky se dood in ‘n verklaring op Instagram betreur en hom beskryf as “‘n baken van inspirasie, motivering en onwrikbare ondersteuning”.
“Sy aansteeklike energie en opregte passie om ander te help om hul lewens te transformeer, het ons diep geraak,” het die gimnasium gesê.
“Deur ontelbare oefensessies, woorde van aanmoediging en deernisvolle leiding het hy ’n onvervangbare deel van ons fiksheidsreise en ons gimnasiumfamilie geword.
“Elke sessie met Justyn het na veel meer gevoel as net oefening.”
Die gimnasium het bygevoeg Vicky het altyd “‘n positiewe omgewing” geskep.



