‘n Afgetrede pastoor, David Zandstra (83) is na 50 jaar in hegtenis geneem vir die moord op ‘n agtjarige.
Hy was ook glo die pastoor wat haar begrafnis waargeneem het.
Gretchen Harrington (8) het op die oggend van 15 Augustus 1975 haar huis in Marple, Pennsylvanië in Amerika, verlaat om na die somerbybelkamp te stap, en verdwyn.
Ongeveer twee maande later is haar liggaam in die nabygeleë Ridley Creek-staatspark gevind, maar die misdaad het onopgelos gebly.
Die deurbraak in die saak
In Januarie vanjaar het ondersoekers gesê hulle het ‘n onderhoud gevoer met ‘n anonieme vrou wat beste vriende was met Zandstra se dogter en wat gereeld by die gesin se huis oorgeslaap het.
Sy het aan ondersoekbeamptes gesê sy het tydens ‘n oorslaapgeleentheid, toe sy 10 was, wakker geword van Zandstra wat haar betas. Die anonieme vrou het glo gesê sy het aan haar vriendin vertel wat haar pa aan haar gedoen het, waarna die vriendin glo gesê het haar pa “doen dit soms.”
Diesefde persoon het glo vroeër die jaar aan die polisie vertel dat sy dink haar vriendin se pa is die moordenaar. Sy het selfs aan die polisie ‘n dagboek gewys waarin sy in 1975 geskryf het sy dink haar vriendin se pa is die moordenaar.
In Julie vanjaar het ondersoekers na Marietta, Georgia – waar Zandstra nou saam met sy vrou woon – gereis om ‘n onderhoud met hom te voer.
Zandstra het eers ontken dat hy geweet het wat met Harrington gebeur het, maar ondersoekers sê hy het later erken dat hy haar ‘n geleentheid aangebied het en haar na ‘n nabygeleë beboste gebied geneem het.
Zandstra sê hy het Harrington gevra om haar klere uit te trek en sy het geweier. Hy het haar toe met die vuis teen die kop geslaan, wat haar laat bloei het. Hy het haar liggaam in die bos gelos en van die toneel gevlug.
Die polisie het Zandstra ook in 1975 ondervra, maar die destydse pastoor het ontken dat hy Harrington gesien het op die dag waarop sy ontvoer is.
Zandstra word nou aangekla van moord en ontvoering en is tans in aanhouding.
Bron: BBC News




