27 Julie: Nasionale boereworsroldag!

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Boereworsrol is eg Suid-Afrikaans en ‘n heerlike maklike gereg.

Op 27 Julie vier ons nasionale boereworsroldag.

Terwyl jy hierdie naweek rugby kyk, steek ‘n vuurtjie aan, braai ‘n lekker stukkie wors en maak heerlike boereworsrolle vir jou gesin en verras hulle met ‘n interessante nuwe sous!

Die wêreld het ‘n paar bekende souse om saam met gebraaide vleis voor te sit, maar het jy al monkeygland-sous saam met ‘n boereworsrol probeer?

Wat dit spesiaal maak, is dat dit eg Suid-Afrikaans is. Soos boerewors.

As jy moeg is vir dieselfde tamatiesous en blatjang oor jou boereworsrol, probeer tuisgemaakte monkeygland-sous. Jy sal nie spyt wees nie!

Bestanddele:

(Genoeg vir ses mense)

‘n Tot is ongeveer 25 ml.

6 worsbroodjies

Vir die sous:

1 groot ui (fyn gekap)

1 tot botter

1 tot olyfolie

2 knoffelhuisies (fyn gekap)

1 koppie tamatiesous

1 koppie blatjang

½ koppie Worcestersous

1 tot bruinsuiker

1 tot asyn

1 t brandrissievlokkies

water (hou bietjie op bystand vir ingeval jou potjie droog raak)

Metode:

1. Braai die ui in ‘n vuurvaste kastrol of pan op die vuur vir ‘n paar minute in die botter en olie soos jy daarvan hou.

2. Voeg al die ander bestanddele vir die sous by, behalwe die water, en prut vir 15 minute. Roer redelik gereeld om seker te maak dit brand nie.

Voeg ‘n bietjie water by as die sous te dik raak na jou smaak of wil aanbrand.

3. Na 15 minute se prut is die sous gereed om te bedien.

Resep: Jan Braai